Afrikaans

El Negro en Ek

As negentienjarige ryloper in Spanje beland Frank Westerman toevallig in die dorpie Banyoles, waar ’n opgestopte “Kalahari-Boesman”, slegs bekend as El Negro, uitgestal word. Sy indrukke bly hom by – en wanneer hy dekades later weer van El Negro lees, dié keer in ’n Franse koerant, is dit die begin van ’n ondersoeksreis wat belangrike vrae oor rasopvattings en die Westerse beskawing na vore bring. Wie was hierdie naamlose man? Wat sê sy opgestopte “museumteenwoordigheid” oor Europese denke oor slawerny, rassisme en kolonialisme – en bied hy slegs ’n spieël op ’n vergange tyd, of ook op die hede?

Oor die vertaler

Daniel Hugo was ’n spesialisomroeper by Radiosondergrense en verantwoordelik vir die literêre program “Leeskring”. Hy is ’n gerekende digter met 13 poësiebundels op sy kerfstok. As vertaler het hy reeds die werke van onder andere Tom Lanoye, Rutger Kopland, Herman de Coninck, Harry Mulisch, Herman van Veen en Cecily Mary Barker in Afrikaans vertaal. Vir twee van hierdie vertalings – Tom Lanoye se Sprakeloos in 2014 en Stefan Hertmans se Oorlog en Terpentyn in 2016/2017 – word Hugo met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se prys vir vertaalde werk bekroon.